Thursday, 31 August 2017

Die vreugdes van 'n tuin

Noudat die eerste groen blaartjies van 'n nuwe seisoen weer oral aan die bome verskyn, die wit en pienk bloeisels van my enigste twee vrugtebome my elke oggend glimlaggend groet as ek die agterdeur oopmaak, nou kan my siel weer lewe!

Gister het ek gaan saad koop. 'n Tyd terug het ek die saadkopery gestop, die duiwe vreet alles binne sekondes op en my beursie raak al platter. Maar so met die koms van die lente en vrolike kleur wat oral in die tuin verskyn, raak my verlange na die voëls al groter.

Ek het mos 'n paar skilderye anderdag verkoop! Ek mag myself mos maar bietjie bederf. Ek koop die oulikste voëltjievoerder, van staal gemaak nogal. Dit het 'n selfvoerder binne en die opening aan die kant is net groot genoeg vir my geliefde geveerdes om rats in te kan glip en hul kroppies vol te vreet.

 Mossie was eerste nuuskierig!

 En toe bontrugwewer!

 Honger is nie 'n man se maat nie!

 Akrobaat by uitstek! Aanhouer wen!
 Mossie sit alles en betrag, sy maak 'n mooi prentjie tussen die perskebloeisels!
 Toemaar, daar val saad op die grond ou Duifie....wag net!
 Die dae van porseleinkoppies vol saad is getel, dit was mooi, maar het nie so goed gewerk nie!
 Lemoen vir nagereg!

 'n Baie welkom besoeker vir 'n paar oomblikke: hoep-hoep bo in die boom. Maak my hart so bly!

 Nog 'n nie-so-baie-bekende geveerde vriendjie! Dikbekwewer. Pragtig vir my!
My bonus vir die dag: suikerbekkie kom suig sy nektar uit die aalwynblomme. Om van dié knapie 'n foto geneem te kry, vra baie geduld. Maar dis altyd die moeite werd!

Friday, 24 March 2017

Klein vreugdes

"Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin...." het N.P. van Wyk Louw jare terug digterlik neergepen. En noudat dit koeler raak en winter saggies naderkruip, word die wilde voëls se besoeke aan my tuin ook meer, want kos in die veld raak skaars.
Die grootste vreugde is natuurlik om my gunsteling geveerde te aanskou. Janfrederik!

 Wanneer hy op die voerplankie neerdaal en die wêreld met blink ogies bekyk, sy sappige meelwurms een vir een oppik en konsertveer weer wegvlieg, word my dag sommer onmiddellik beter en mooier!

Monday, 13 February 2017

Geliefde voëltjies oral in ons land

Ek was onlangs bevoorreg genoeg om vir 'n paar dae na Mount Amanzi te kon gaan. Om in die natuur te wees, maak my sielsgelukkig.

Naby ons hut was daar baie dikbekwewernessies, netjies vasgegras aan die palmiete en riete. Ons kon voortdurend na die donkerbruin dikbekwewers se vrolike liedjies luister. En ook hul bedrywighede dophou. Onophoudelik het hulle heen en weer gevlieg, nog nessies gebou, klein dikbek-kindertjies sorgsaam gevoed en baie min stil gesit. Omdat ek graag 'n foto van hulle wou hê, het ek maar geduldig gewag. En is ryklik beloon!





Inligting van Wikipedia: Die Dikbekwewer (Amblyospiza albifrons) is 'n algemene standvoël en plaaslike nomade van woudrande en welige plantegroei, dikwels naby water. Hulle bly gewoonlik in klein kolonies met netjiese, fyn geweefde neste wat 'n syingang het en aan riete geheg is. Die slaapneste het groter ingange as die broeineste. Die voël is poliginies. Die voël is 18 cm. groot en weeg 35 - 56 gram. In Engels staan die voël bekend as die Thick-billed Weaver.

   HALF-COLLARED KINGFISHER / BLOU VISVANGER
Daar was baie ander soorte voëls te siene o.a. die lieflike visvangers. Wanneer 'n blou visvangertjie oor die water swiep, was dit asof ek 'n present uit die hemel ontvang! Hoe lieflik is hulle nie net nie. Om nie eers van hul bekoorlike liedjies te praat nie. As mens saam met jou eerste wakkerword na sulke mooi bosveldklanke kan luister, loop jou beker oor.
 Van voor en van agter ewe pragtig!

 In vergelyking met die ander visvangervoëls is die bosveldvisvangers van medium grootte en 20–23 cm in lengte. Die volwassenes het 'n helderblou rug, vlerkpaneel en stert. Hulle koppe, nekke en onderdele is wit en hulle het swart skouers. Die vlug van die bosveldvisvangers is vinnig en direk. Die groot snawel het 'n rooi bo-kaak en 'n swart onderkaak en die bene is helderrooi. Sommige voëls het 'n gryserige kop, wat verwarring met die manglietvisvanger veroorsaak.
Die gedeelte tussen die snawel en die oog is egter donker en skep 'n donker streek deur die oog.
Daar is nie 'n verskil tussen die voorkoms van die mannetjies en wyfies nie, maar die jonger voëls se kleure is nie so helder nie en hulle het 'n bruin snawel.

Twee saam, een jonger as die ander een. 

Die bosveldvisvanger jag van 'n oop tak af, of sal stil sit in gedeeltelike skaduwee en na kos soek. Die prooi is meestal 'n wye veskeidenheid insekte, maar ook spinnekoppe en ander geleedpotiges, slange, visse en paddas. Om te kan beleef hoe hulle blitssnel 'n vissie uit die water oppik en dan êrens 'n rustige sitplek te soek, is 'n wonderlike voorreg vir enige natuurliefhebber.

Natuurlik is dit heerlik om 'n waterverf skildery van 'n soortgelyke en kleurvolle voëltjie te verf, nl. die kuifkopvisvanger.
Kom kuier in my winkel!

Wouter en Antionette se Kwikstertjie

Kyk net die oulike dingetjie!

Ek het vandag 'n ePos van "Wouter" gekry, waarin hy vertel van 'n Kwikstertjie (Motacilla capensis) wat hy en sy vrou Antionette, groot gemaak het en hul worsteling oor wat om met die pragtige dingetjie te doen. Dis 'n storie wat ek al te goed ken - dis hartverskeurend om 'n wilde voëltjie in 'n hok te sien hunker na vryheid, maar die gedagte van om hom te laat gaan, is net so 'n hartseer gedagte. Hier is Wouter se storie :

"Goeiemôre Maree

Ek het so 2 maande gelede ‘n babatjie kwikkie gevang wat tussen ons voordeur en veiligheidsdeur kom skuil het. Dit was laat die aand na ‘n erge storm en hy (sy?) moes uit die nes geval het. Ons het hom grootgemaak en hy is te pragtig. Hy gaan elke dag saam met Antionette werk toe en hy is te dierbaar.

Ons kan hom nie vrylaat nie, want hy sal verseker nie oorleef nie. So lief as wat ons vir hom is wonder ons of hy nie beter af sal wees buite in ‘n groot hok saam met ander kwikkies nie.

Jy weet nie dalk van iemand wat kwikkies aanhou en hom sal aanneem nie? Dit gaan verskriklik moeilik wees, maar dit is dalk die regte ding om te doen.    

PS: Ons het 2 African Greys wat dink hulle is mense, die huis behoort aan hulle en ons is net daar om hulle te versorg en te bederf. Buite voer ons al die ander “aangenome” kinders – mossies, hadida’s, kwikkies, bont houtkappers, mynah’s, vinke, duiwe, tiptolle, pieke….    Ons het al getel dat daar, behalwe vir al die ander voëls, meer as 30 duiwe op ‘n slag kom eet het."



Ek het onmiddellik op die foon gespring en hom gebel (sy telefoonnommer was in die ePos) en ons het lank gesels oor ons liefde vir voëltjies en hoe hulle in ons harte inkruip. "Chippies" (ek dink dis Kwikkie se naam, want hul pappegaai kan 'n lekker happie van hom maak!) vlieg en baljaar heeldag in die geslote slaapkamer rond en spandeer net die nag in sy hokkie. Gaan ook gereeld saam met Antionette werk toe. Wat vir my heeltemal wonderlik klink. 

Kwikkies, en ander wilde voëltjies wat hans groot gemaak is, is heeltemal kapabel om na hulself om te sien indien hulle vry gelaat word, maar Wouter se bekommernis is dat Chippies mak is, nie bang vir mense is nie, en aangesien die bure so naby is (met honde en katte!), is hy bang Chippies sal in hul tuin land en opgevreet word. Wat heel waarskynlik wel sal gebeur. 

My raad aan Wouter is om Kwikkie te hou en dinge net te los soos dit is. Dis al lewe wat Kwikkie ken. Om buite in 'n hok te gaan met ander voëls is veel erger as vrylaat (en dis teen die wet om ons inheemse voëlsoorte in hokke aan te hou); dis nie 'n lewe vir 'n voëltjie nie. Binnenshuis het hy tenminste 'n bietjie vryheid en Wouter en Antionette se geselskap. 'n Ander alternatief is die dieretuin. Dalk het hulle groot voëlhokke of, as hy daar vrygelaat word, is dit 'n groter spasie waar daar tenminste nie honde of katte is nie. 

Ons is almal geneig om die 'toekoms' van 'n diertjie te wil bepaal, maar partymaal is dit goed om net te vertrou dat hul 'n gelukkige, al is dit dalk kort, vry lewe gehad het.

Sterkte met jul besluit Wouter!
 
(PS : Ek weet van iemand met 'n wildsplaas nie ver van julle nie, dis dalk ook iets om in gedagte te hou. Laat net weet, ek gee jou Louis se telefoonnommer.)



Tuesday, 20 September 2016

Ek en die Mynahs

Die jongste Mynah-baba (van die Starling-familie - Sturnidae) van drie wat hierdie week in my tuin uitgebroei het.

Ek het hierdie haat/liefde-verhouding met die Mynahs in my tuin. Hulle is groot moeilikheid makers in dié sin dat hulle ander voëls in die tuin se eiers eet en babatjies doodmaak. Ek het ook al hulpeloos gestaan en kyk hoe hulle 'n Rooiborsduifie karnuffel en probeer doodmaak. En in hul pogings van nes maak, verwoes hulle alles wat hulle teëkom. Soos die grasdakkie by ons ingang hek. Ons het nou al 4 maal die dakkie laat regmaak en hierdie jaar, weer dieselfde storie - al die gras uit gepluk om nes te maak onder die nok van die dakkie.


Ook bekend as die Indiese Spreeu (Acridotheres tristis). Die eerste Indiese spreeus in Suid-Afrika dateer terug na 1902 toe voëls uit aanhouding ontsnap het. In die komende jare is meer en meer voëls vrygelaat om te help met die bestryding van insekte, onder andere sprinkane en kewers. Verskeie voëls het verder ook uit aanhouding ontsnap in die noord ooste van die land. Die bevolking en verspreiding van die voëls het teen ‘n geweldige spoed toegeneem en voëls is al so ver as die Wes-Kaap waargeneem. Daar is ook bewyse dat Mynahs 330km en meer kan aflê binne ‘n jaar. Hierdie “trek” eienskap van die Mynah (ook bekend as die Indiese spreeu) het veroorsaak dat dit teen 1987 reeds feitlik die hele Noordelike en Noord-Oos Suid-Afrika en selfs die Suid-weste van Botswana beset het, en die bevolking is steeds besig om eksponensieël te vermeerder en vinnig  te versprei. Die Indiese spreeu is inheems aan Suidelike en suidoos Asië, maar kom deesdae regoor die wêreld voor en is in verskeie lande reeds as pes verklaar.

Mai in my Studio

Maar ek ken ook die ander kant van hierdie intelligente voëltjies. (Het jy geweet dat hulle ook kan praat?) 'n Paar jaar gelede het ek 'n klein babatjie in die straat opgetel en huistoe gevat en dit was die begin van 'n groot liefdes-verhouding tussen ons twee. Ek het haar eers in my baadjie se sak rond gedra, toe in 'n mandjie en later, toe sy bietjie groter was, het sy haar eie hokkie in my studio gehad. Maar die hek was permanent oop en sy het gekom en gegaan soos sy wou.


Eers het sy die hele wêreld plat geloop (Mynahs is verskriklik nuuskierig en niks nuuts in die omgewing ontsnap hulle aandag nie) en toe sy begin vlieg het, het sy my buitentoe na die tuin gevolg, maar altyd vinnig na my skouer terug gekeer as iets in die tuin haar nie aangestaan het nie.

Mai in my studio terwyl sy dophou waarheen ek die 'gemclips' skuif wat sy so graag uit die houertjie uit trek!

Baie nuuskierig wil Mai weet wat onder hierdie plantjie is!


Wanneer ek koffie gedrink het of iets geëet het, het Mai altyd nader gekom vir haar stukkie (hier sit sy op my knie) - hulle dieet is baie divers, enige iets van vleis na vrugte, brood, gekookte groente, eiers (rou of gekook) en gemors-kos soos Simba tjips was een van haar gunstelinge! Die selfoon wat daar so gevaarlik naby lê, moes ek al menigmaal red of sy het al wat 'n knoppie is verwyder. Sy het selfs haar eie speelgoed gehad - 'soft toys', ou selfone, gemclips en 'n speelding met 'n klokkie binne, wat nie lank gehou het nie, die klokkie MOES net verwyder word!


Mynahs is baie skoon voëls. Mai kon vir ure sit en haar vere skoonmaak en regpak. Een van haar daaglikse roetines was haar oggend bad. Hier bo bekyk sy een van die voëlbaddens in die tuin om te sien of die water skoon genoeg is.

En dan inspring!

Bene in die lug!

Goed afskud om droog te word!

... en dan 'n rukkie in die warm sonnetjie


Sodra sy klaar was, is ons terug studio toe, waar sy dan 'n dutjie gevang het op my rekenaar se luidspreker


Maar sy het ook daarvan gehou om saam met my te bad. Dan het sy op my knie gesit, wat net onder die water was, en te heerlik gespartel in die warm water. Wanneer sy genoeg gehad het, het sy opgevlieg na die muurtjie agter die bad om af te droog.


Mai was vreeslik lief vir mense en het op enigeen wat die studio binne gekom het, se skouer gaan sit. Een dag het ek 'n motorkar by die hek gehoor (Mai was buite in die tuin), maar toe ek gaan kyk om te sien wie dit was, was hulle klaar weg. En Mai was ook weg. My hart was gebreek. Al wat ek kan dink is dat sy na hulle toe gegaan het en dat hulle haar gevat het en weg gery het. Eers wou ek hulle vloek en laat toor, maar al wat ek kan hoop is dat hulle haar 'n goeie huis en baie liefde aangebied het en nie in 'n hok aangehou het nie.


Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...