Maandag 21 September 2015

Janfredrik, mossies en nog meer besoekers

Elke dag bring sy eie verrassings. Ons kuiergaste oor die naweek het gewissel van uiters gewild tot minder geliefd. 
 Ons vorder! Janfrederik sit nog nie op my sitkamerbank nie, maar hy vlieg nie meer weg as ek 'n paar treë van hom af staan nie. Sy meelwurms lê en wag op die plankie, 'n spesiale bederf-dis waarmee ek hom nader lok. Mooiste ou voëltjie in die tuin. Verseker. 
 Mossie maar man! 'n Bondeltjie vere wat heeldag lank vrolike wysies fluit. 
 Rooivlerkspreeu is ook deesdae 'n gereelde besoeker. Heelbo op die rondawel se dak maak hy hom tuis en bekyk die wêreld vandaar. 


O rooivlerkspreeu,
ek hoor jou lied,
‘n diep verhaal
van warm verdriet...
Ek hoor jou klae,
jou stemklank soos in kinderdae,
en soek dan hier,
dan daar,
tot ek jou op die tak gewaar,
allenig op die eiketak,
so somber-swart,
so windverward!
Die reënbui en die winterkou...
die berg is toe van wolkegrou,
die stormweer smoor
jou klagte dood:
bo in die berg is hongersnood.
Die donker kom,
die stormwind fluit-
my hart herhaal
‘n honderd maal
die smeking van jou stemgeluid!
O rooivlerkspreeu,
so somber-swart,
so noodverward,
ek hoor jou in die noordewind.
O bedelaar-kind,
verstom, verkluim,
in raaisel-dom
van kouer, wrede
wêreldruim!
D.F. Malherbe. 


 Dis nie net Janfrederik wat van 'n stukkie kaas hou nie, kyk hoe gelukkig lyk mossievroutjie met haar vonds! 

Die Indiese spreeu of Common Myna. (Engels) Nie die gewildste voël op aarde nie. Die rede? Navorsing en menige ooggetuies vertel van Indiese spreeus wat inheemse voëlspesies  aanval en selfs hul eiers uit hul neste gooi.

Vrydag 18 September 2015

Gunsteling der gunstelinge

As ek gedwing sou word om te kies, sou ek heel waarskynlik die glasogie as my gunsteling geveerde vriendjie kies. Elke keer as ek een of meer van hulle by die waterbak in ons tuin of elders gewaar, bons my hart sommer van pure blydskap. Met hul klein lyfies (10-12 cm. en gewig 8-12 gram) en wit kringetjie  (wat uit kort veertjies bestaan) om die wakker ogies, hul konstante kwetterende roep en vrolike, lewendige wip-wip van tak na tak, kruip hulle sommer diep in enige voëlliefhebber se hart. Dis eintlik 'n Kaapse glasogie (Cape white-eye), maar daar is heelwat streekname vir dié klein voëltjie: meelogie, kersogie, ringogie en piet-la-pok. (ek vermoed lg. is 'n troetelnaam)




Van die nagenoeg 95 soorte glasogies wat in Afrika, Madagaskar, Asië, Japan en die eilande in Indonesië, Filippyne en Maleisië tot in Australië voorkom, is daar slegs drie soorte teenwoordig in Suider-Afrika. Die Kaapse en Gariep-glasogie is beperk tot Suid-Afrika en die suidelike dele van Namibië, terwyl die geel glasogie in Noord KwaZulu Natal, Zimbabwe, die Caprivi en die noordelike dele van Botswana voorkom. (Volksblad)

Saterdag 12 September 2015

Mossies

'n Mossie is een van die geveerdes waaroor niemand juis baie opgewonde raak nie. En tog. Gister sit ons heerlik buite en ontspan nà 'n besige dag. 'n Jong wyfie mossie kom sit op die bruggie naby ons en tjirp-tjirp vrolik. Net 'n bondeltjie vere. Ek neem foto's, een na die ander. Sy geniet die fotosessie, pure voëltjievrou! 


'n Sappige wurm in die snawel. "Kyk wat het ek!" tjirp sy.
Mossies is klein voëltjies met vaal en bruin vere. Die wyfie lê vier tot ses eiers wat ongeveer twee weke neem om uit te broei. 
In die Bybel lees ons in Mattheus 10:29 Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder die wil van julle Vader nie. 
'n Troosryke boodskap. 
'n Pragtige voëltjie. 

Vrydag 04 September 2015

Kom ons teken!

 Geelvink

Gevlekte ooruil
 Piet-my-vrou
Tarentaal
Op RedBubble is 'n verskeidenheid sketse asook 'n hele aantal artikels beskikbaar. Kom maak 'n draai!

Dinsdag 01 September 2015

Die kwikstertjie

Toe ek 'n kind was, het ek iemand hoor sê 'n mens moet sout op sy stert gooi, dan sal jy hom kan vang. "Alles tevergeefs!" sê die Prediker. Ek het nooit eers probeer nie. Wat ek wel gedoen het, is om hierdie vrolike voëltjies te bekyk, geniet en te waardeer. En ek doen dit steeds. As ek sy lang, bekende fluit iewers in die tuin hoor, maak ek tyd om te gaan kyk. Te kyk hoe hy staan as hy gaan en hoe hy gaan as hy staan. Pragtig klein met 'n rugkant dof olyfgrys, onderkant naaswit met 'n swarterige borsband. Sy wenkbrou, buitestertvere en rande van vlerkvere witterig - die gewone kwikkie of "Cape wagtail" in Engels. 

 Nog name: kwikkie, wipstertjie of akkermannetjie. 
Die naam "kwikstert" kom van Nederlands: kwik-lewendig en staart-stert. Dié voëltjie se stertjies is baie beweeglik en wip voortdurend op en af. 
Hierdie bont kwikkie het ek by Ou Meulstroom, naby Bronkhorstspruit gesien. Sekerlik oppad om te gaan nesmaak! 
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...