Vrydag 18 September 2015

Gunsteling der gunstelinge

As ek gedwing sou word om te kies, sou ek heel waarskynlik die glasogie as my gunsteling geveerde vriendjie kies. Elke keer as ek een of meer van hulle by die waterbak in ons tuin of elders gewaar, bons my hart sommer van pure blydskap. Met hul klein lyfies (10-12 cm. en gewig 8-12 gram) en wit kringetjie  (wat uit kort veertjies bestaan) om die wakker ogies, hul konstante kwetterende roep en vrolike, lewendige wip-wip van tak na tak, kruip hulle sommer diep in enige voëlliefhebber se hart. Dis eintlik 'n Kaapse glasogie (Cape white-eye), maar daar is heelwat streekname vir dié klein voëltjie: meelogie, kersogie, ringogie en piet-la-pok. (ek vermoed lg. is 'n troetelnaam)




Van die nagenoeg 95 soorte glasogies wat in Afrika, Madagaskar, Asië, Japan en die eilande in Indonesië, Filippyne en Maleisië tot in Australië voorkom, is daar slegs drie soorte teenwoordig in Suider-Afrika. Die Kaapse en Gariep-glasogie is beperk tot Suid-Afrika en die suidelike dele van Namibië, terwyl die geel glasogie in Noord KwaZulu Natal, Zimbabwe, die Caprivi en die noordelike dele van Botswana voorkom. (Volksblad)

2 opmerkings:

  1. Al die voëltjies kan gunstelinge wees Liz, myne is natuurlik my Jan Frederik. Ek kan glad nie 'n rappor opbou met my Witogies nie, kan hulle nie eers fotografeer nie! Sodra hulle my sien, verdwyn hulle in die hoogste toppe van die bome en kom sit NOOIT op my voertafels nie. Maar eendag is eendag, dan gaan ek hulle vasvang!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. So dalk moet ek een van my glasogies so mak probeer maak soos jy jou "Robbie"! ;-))
      Dankie vir die inloer Maree!

      Vee uit

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...