Sondag 04 Oktober 2015

Somer- en sonskynstories


Dis warm. Die voëls weet dit. Die honde weet dit. Ons weet dit. Dis somer in Suid-Afrika. 'n Hittegolf met temperature van 32 grade en meer tref die binneland. Almal snak na asem en soek maniere om af te koel. Toe ek na buite kyk vanoggend, sien ek hoe hierdie tortelduifie dooierus in die waterbak vat. 'n Geluksalige uitdrukking in die ogies.  Ek was sommer lus om haar te gaan geselskap hou! 

Die rooikophoutkapper wat altyd nogal skugter is om te naby aan ons te kom, het ewe kordaat kom water soek in die honde se drinkbak, 'n paar treë vanwaar ons gesit en hom dopgehou het.  
Gelukkig was ek betyds om 'n foto te kon neem. Ek verwonder my altyd aan sy sterk, dik snawel. Met hierdie snawel kan die rooikophoutkapper nie alleen die vrugte waarvoor hy lief is, uitmekaar skeur nie, maar selfs ook neute kraak. 



Nie te lank nadat die mooie rooikophoutkapper weggevlieg het nie, het tortelduif weer haar verskyning gemaak. Die water was heerlik. Kyk hoe tap dit teen haar krop af. Ek kon nie help om aan die woorde te dink wat ek iewers op die internet gelees het nie:  As gevolg van die ongewone geluid van die voëls se roep in die bos word daar gesê dat die roep van die duif in die oggend is: "werk haaarder, werk haaarder", en in die aand sê die roep: "drink laaager, drink laaager."

2 opmerkings:

  1. Aaah, pragtige foto's Liz! Met 36℃ in julle omgewing is die water definitief a lewensredder vir ons geveerde vriende!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Sommer vir ons almal Maree! Baie dankie vir die inloer en gawe kompliment!

      Vee uit

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...